HJnA Hoekom maak God almal nie gesond nie?

HOEKOM MAAK GOD ALMAL NIE GESOND NIE?- in die konteks van wat in n kerk gesê is….

Iemand vertel sy was Sondag in n kerk waar daar deur die spreker gesê is: “I believe everybody in this church, who is sick, will be healed tonight”.

Dit sou wonderlik wees. Behalwe, dat sy gesien het hoe daar n man met n seer hand is, vir wie daar oor en oor gebid is, deur meer as een persoon, en daar het nie genesing plaasgevind nie. 

Wat maak ons daarvan? 

Wat maak die ou met die hand daarvan? Wat beteken dit vir sy geloof, as hy níe genesing ontvang nie? Wat beteken dit vir die geloof van die bidders? My hart breek vir hul albei. Die onderliggende vraag is, kan iemand ooit so n stelling maak? 

Die vraag is dus: Hoekom maak God “almal” nie gesond nie? Want ons weet, dat dit nie is wat ons in realiteit sien nie. My pa het nie gesond geword van sy kanker nie. My ma het nog  steeds Alzheimers. Dit is een van die goed wat my sussie haar geloof gekos het- hoekom het God hulle nie gesond gemaak nie? 

“Almal” word nie gesond nie. In teendeel- meeste nie. 

Hier is baie goeie antwoorde in GOTQUESTIONS se artikel https://www.gotquestions.org/God-heal-everyone.html

In opsomming: 

-God kan ons lyding gebruik, tot verheerliking van Sy Naam, wanneer Hy ons níe gesond maak nie. Bv deur die lewe van Joni Erickson Tada, wat as jong meisie verlam is na n duik ongeluk. 60 jaar later is sy steeds verlam, maar n ontelbare aantal mense het al haar getuienis gehoor. Maar, ook dit is subjektief.

Wat sê God se Woord, die Waarheid waarop ons ons lewe grond, hieroor? Die artikel maak die volgende stellings:

-God se beloftes van genesing aan Israel is baie spesifiek aan die volk, op n spesifieke tyd in hul geskiedenis en vir n spesifieke rede.

-Jesus het nie “almal” gesond gemaak nie.

-Jesus het mense gesond gemaak om te wys dat Hy God is, en ook in vervulling van Ou Testamentiese profesieë, om te wys dat Hy die vervulling van die profesieë was. 

-Hy het mense gesond gemaak op n Sabbat, om n beginsel oor te dra, dus vir n spesifieke rede.

-die apostels het siekes gesond gemaak, dit was die bewys dat God met hulle was, en dat Jesus God was. 

Dit is belangrik om hierdie vrae te kan antwoord. Ek wens ons kon daardie man met die hand vind, om vir hom te sê: Daar is niks fout met jou geloof nie. God maak nie almal gesond nie. Dit beteken nie Hy kán nie. Hy doen dit net nie gewoonlik nie. 

Die onderliggende vraag- behoort iemand so n stelling van n kansel af te maak..?  kom eintlik op die volgende neer: hoe weet ons dat dít is wat God “gesê” het?

Similar Posts