HJnA Is die einde naby?

Mens kan nie help om oral berigte te sien, wat mens laat wonder of die einde naby is nie. Baie naby. Oorloë en gerugte van oorloë.. Oorlog in Iran. Oorlog rondom Rusland. Aardbewings en oorstromings net waar jy kyk.
Wat moet ons hiervan maak?
Die Kerk van alle eeue het nog altyd die wederkoms van Jesus Christus in hul eie leeftyd verwag. Miskien is dit omdat ons net nie kan help om te dink dat ons belangrik is nie. Miskien het God dit met n rede so bestem. Sodat ons altyd gereed sal wees. Prediker 3:11 Hy het ook aan die mens n besef gegee van die onbepaalde tyd. He has set eternity in the heart of man.
Selfs die goddelose Hollywood en Netflix weet dat daar n einde gaan kom aan die wêreld soos ons dit nou ken.
Hoe moet ons hierna kyk? Ons weet dat verskeie mense deur die eeue al presiese datums vir Jesus Christus se wederkoms voorspel het (sonder sukses); ons weet dat daar film reekse hieroor gemaak is; mense woon Bybelstudies daaroor by; daar is verskillende menings oor n wegraping, die antichris, die tempel, ens ens ens.
Wat is n verantwoordelike en verantwoordbare manier om hieroor te dink?
In die onderstaande artikel, gee John Piper ons n goeie riglyn oor hoe om hierdie berigte te beoordeel, of eintlik, wat om met hierdie gerugte te maak. Hy praat van diegene “wat Sy koms liefhet”. Mag dit óns wees na wie hy verwys…mag óns diegene wees wat Sy koms liefhet en verwag.
https://www.desiringgod.org/interviews/your-main-calling-in-the-end-times
Miskien som John Lennox dit ook goed op, ook aan die hand van Paulus se brief aan die Tessalonisense. Hierdie opsomming kom uit sy boek God, AI and the end of History.
In 1 Tess 1:9-10 sê Paulus ” Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien, en dat julle Sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.”
Lennox sê op bl 21 dat dieselfde aspekte ons bekering en geloof moet karakteriseer, as wat ons in Paulus se brief sien:
-n wegdraai van afgode ( alles waarop ons vertrou anders as God)
-bekering na God om Hom in alles te dien in die hede
-n verwagting van die toekomende terugkeer van Sy Seun Jesus Christus, soos uitgedruk in Openbaring 22:20- “Amen! Kom Here Jesus!”
-n bewustheid dat ons, tesame met alle mense, verlore is sonder Christus, en God se oordeel in die gesig sal staar.
Lennox sê verder: ons lewe in twee gelyktydige tydlyne (bl. 31): die een is die tydlyn van wêreldgeskiedenis, wat afstuur op Jesus se wederkoms en God se finale oordeel, op n tyd deur Hom bepaal. Die ander tydlyn, is die tydlyn van my lewe. Wanneer my eie lewe tot n einde kom (dit kan vandag wees), maak dit vir my nie meer saak hoe lank dit nog is voor “die wederkoms” nie. Dan sal die vraag wees: het ek Sy koms liefgehad, was ek besig met Sy Koninkryk?
Jesus het eintlik baie te sê gehad oor Sy terugkeer. Sommige van wat Hy sê is makliker om te verstaan as ander dele. Maar wat ons wel kan verstaan is dat ons altyd gereed moet wees. Dat ons nie weet wanneer die Bruidegom terugkeer nie, maar dat Sy bruid Hom altyd moet verwag. Sy gelykenis oor die tien maagde gaan nie oor olie in jou lamp nie; dit gaan daaroor of ek reg is vir Sy koms, wanneer Hy skielik kom (of ek skielik voor Hom staan). In die stuk net voor hierdie gelykenis, vertel Hy ook die storie van die wyse slaaf wat ten alle tye gereed was vir sy meester se koms. Hierdie twee gelykenisse hou dieselfde betekenis vir ons in.
Paulus praat in sy brief aan die gelowiges is Fillipi ten minste drie keer van “die dag van Christus/ die dag van Jesus Christus”.
-1:6 (in die konteks van hul deelname aan die evangelie), is Paulus oortuig: dat Hy wat n goeie werk in hulle begin het, dit sal voltooi op die dag van Christus Jesus.
-1:10 om die dinge wat saak maak te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.
-2:16 (in die konteks van v 12 waar hy sê werk met vrees en bewing aan jul verlosing..julle skyn soos sterre in die heelal) v16 deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie tevergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.
Verder in 3:20: Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.
Met ander woorde: ons moet besig wees met die evangelie, suiwer en onberispelik lewe en vashou aan die woord van die lewe, met n bewustheid dat ons burgerskap in die hemel is, tot op die dag van Christus. Wanneer dit dan ook sal wees.
Die vraag is dus nie soseer, is die “einde” naby nie. Die vraag is: Het ék Sy koms lief? Is ék gereed?
Fil 3:8,9 Ter wille van Hom het alles vir my n verlies geword..sodat ek Christus as wins kan verkry en in Hom bevind kan word (ons kan seker hier invoeg “wanneer Hy weer kom”)- nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus..