HJnA GOD of War – Volksmoord, Kruistogte en Oordeel

Die April/ Paasfees uitgawe van die Mail & Guardian se opskrif lees: Special Edition: GOD OF WAR. 

Wanneer mens deur die koerant blaai, is dit baie duidelik dat die God waarvan daar hier gepraat word, die God van Christene is. Daar is herhaalde opskrifte in verband met Paasfees, die Opstanding, Amerika en Israel, korrupsie in Christelike kerke, n foto van n kruis, Pasga (Passover). Daar is geen enkele artikel oor die god van Islam, of die geweldadige spoor van hierdie godsdiens nie. Geen artikel oor 7 Oktober 2023 nie. Geen artikel oor Christene wat in Afrika vervolg word nie. Daar word wel een keer melding gemaak van Moslems, maar net in die artikel waar dit daaroor gaan dat die sleutels van “the Church of the Holy Sepulcher” in Jerusalem aan n Moslem familie toevertrou is, omdat die Christelike denominasies  nie onderling kon besluit wie dit moes bewaar nie. Verder noem die een artikel wel Hindoes, maar net in die sin dat hulle ook Christelike vroomheid (“piety”) handhaaf.

O ja, en dan is daar die artikel met die skets wat sê: Jesus, the most famous Palestinian– Jesus kompleet met n Palestynse vlag en n “keffiyeh” (daardie swart en wit serp wat almal by pro palestine samekomste dra). Mens kan in die toekoms kyk na die vraag: Is Jesus n palestyn?

(Ek moet bieg dat ek nie die hele artikel gelees het nie. Ek kon net nie.)

Wanneer die wêreld aan the God of war dink, dink hulle aan ons God.

Daar is sekerlik baie wat mens hieroor kan sê. Een van die vrae waarmee ons kinders gekonfronteer word (ook op Stellenbosch universiteit), is die vraag oor God en die oorloë en verwoesting wat Hy in die Ou Testament “beveel”. Nie n nuwe vraag nie; wat wel vir my nuut is, is dat ons Afrikaanse Christen kinders dit moet kan antwoord. n Vriendin van my dogter vra in n boodskap:

“Hallo Tannie

Ek het n vraag

In die Bybel is daar dele waar God sê as violence teen jou gebruik word moenie terug veg met violence.

Maar Moses en die first cusade was beide kere most violent battles. Hoekom gaan Hy teen Sy woorde?”

Hoe antwoord ons sinvol hierop?

Ek dink daar is drie vrae wat hieruit spruit

  • Hoekom het God die Israeliete beveel om hul vyande geheel en al uit te wis, toe hulle die land van Kanaän binne gegaan het?  (Dit wat vandag as “genocide” gesien word.)
  • Wat sê ons oor die kruistogte (crusades)?
  • Wat is God se wil vir ons wanneer daar geweld teen ons self gepleeg word. Hierby kan mens dan ook vra, het God verander (Is die God van die Ou Testament dieselfde as die God van die Nuwe Testament)?

Dit is belangrik dat mens oor hierdie vrae dink VOORDAT dit aan jou gestel word- anders sit mens gewoonlik met n mond vol tande.

Het Jy n Antwoord?

Hier volg voorbeelde van antwoorde op hierdie vrae :

1)HOEKOM HET GOD DIE ISRAELIETE BEVEEL OM HULE VYANDE GEHEEL EN AL UIT TE WIS ?- dit wat vandag  “genocide” genoem word.

Dit raak in die politieke en kulturele klimaat waarin ons leef al hoe belangriker om hierdie vraag te kan antwoord. John Lennox, Oxford professor en teoloog, bied die volgende antwoord aan (onderstaande video).

https://www.youtube.com/watch?v=tUjx10pX_4g

In opsomming:

  • Lennox gee agtergrond inligting oor die geskiedenis van hierdie bevel, en verduidelik ook dat dit waarskynlik nie n bevel tot letterlike en algehele uitwissing van die volke was nie. (Ons vergeet dat die Bybel nie net die Woord van God is nie, maar eintlik ook n hoogs gespesialiseerde literêre werk is.) Die motivering vir hierdie standpunt is dat hierdie volke wel nog steeds voortbestaan het en later weer in die Oud Testamentiese narratief opduik.
  • Hy verduidelik dat dit God se oordeel oor hul verskriklike sonde was, en ook dat God later Sy eie volk ook gestraf het, toe hulle dieselfde sondes gepleeg het. Vir meer hieroor sien die volgende artikel:  The Disturbing Canaanite God Moloch in the Bible | TheCollector . Hierdie artikel gee ook dieselfde argument as in Lennox se video, nl dat Israel later dieselfde paadjie gestap het en ook deur God gestraf is.
  • Nog n punt wat hy maak handel oor “justice” o.t.w. geregtigheid. Almal van ons wil sien dat geregtigheid geskied. Ons kan aan genoeg voorbeelde om ons dink, waar geregtigheid níe geskied nie. Slegs God kan heeltemal regverdig oordeel, omdat slegs Hy volkome geregtig en volkome regverdig is. Lennox maak ook die punt dat die God van die Ou Testament dieselfde God van die Nuwe Testament is. Hy het nie verander nie en Sy vereistes, maar ook Sy liefde, is steeds dieselfde. As voorbeeld noem hy dat die begrip van God as n God van liefde, nie uit die Nuwe nie, maar uit die Ou Testament kom.

Dit bring mens dan by die vraag: Is God n God van oordeel? As jy in die 80s en 90s groot geword het (en vir eeue voor dit) het jy dalk die idee van n God wat net wag om jou te oordeel en “hel toe te stuur” as jy iets verkeerd doen. Dan is dit dalk ook die beeld wat jy het wanneer daar gesê word dat God die perverse volke GEOORDEEL het. Dit is egter nie die beeld wat die Bybel van God voorhou nie. Daar staan geskrywe dat Hy n lankmoedige God is wat wil hê dat elkeen tot redding moet kom.

Kan dit wees dat ons persepsie van die woord “oordeel” dalk verkeerd is? Gerrit G. de Kruijf skryf: Judgement is essentially putting things right, a deliverance and liberation of creation, and one aspect of this deliverance is the suppression and destruction of all who resist this judgement. (Gerrit G. de Kruijf in “Give Place unto Wrath!”) Die Griekse woord wat deur Lukas  gebruik word vir “oordeel” in bv Handelinge 17:31  (Want Hy het n dag bepaal waarop Hy die wereld in regverdigheid gaan oordeel deur n Man wat Hy daarvoor aangewys het.) is “krinó”, en dit word gebruik in die sin van n regter wat n regssaak beoordeel. Wanneer die Bybel praat van OORDEEL, praat dit daarvan dat dit wat verkeerd is, beoordeel word en  reggestel word. Dat God die wêreld beoordeel, en dit wat Hy vind, reggestel word deur n oordeel te fel.

Ons kan dus sien dat die beeld wat die wêreld van God het as n nare ou man wat reg is om mense na n vuurput te stuur nie heeltemal korrek is nie.

 

2) WAT VAN DIE KRUISTOGTE (CRUSADES)? Hoekom het die Kerk mense met die swaard probeer bekeer?

Die indruk wat meeste mense van die Kruistogte het, is dat die (Roomse) Kerk die wêreld ingegaan het en mense met die swaard tot oorgawe en beleidenis van die Christelike geloof gedwing het. Baie soos dit wat ons deesdae in groepe soos ISIS sien..dit is moontlik ook hoekom dit so n relevante vraag word: omdat ons hierdie tipe gebeure letterlik op koerant voorblaaie en internet artikels sien. (Nie dat die heersense kultuur hierdie raaksien nie.) Onderstaande skets is van die 21 Koptiese Christene wat op 20 Feb 2015 deur ISIS tereggestel is.

Wat was die Kruistogte werklik?

Hier is n goeie artikel oor die Kruistogte.
https://www.gotquestions.org/Christian-crusades.html

In opsomming:

  • Dit is nie korrek om te sê dat dit “Christelike Kruistogte” was nie. Die mense wat dit uitgevoer het was duidelik nie noodwendig almal werklik Christene nie. Die Naam van God is in van hierdie geleenthede misbruik om deels menslike doelstellinge te bereik.
  • Die Kruistogte het in der waarheid plaasgevind in reaksie op Moslem besetting van histories Christelike samelewings, wat vanaf 200 to 900 n.C. in Israel, Jordanië, Egipte, Sirië en Turkye plaasgevind het. Hierdie lande was voorheen hoofsaaklik Christen lande gewees. Islam het mettertyd hierdie lande op brutale wyse tot oorgawe gedwing, en die Roomse Kerk het in samewerking met Europese lande met geweld hierop gereageer. Dit is nooit regverdigbaar om in die naam van Christus te roof, moor en plunder nie, maar dit is wel belangrik om die historiese konteks te verstaan om te weet wat werklik daar gebeur het.

As slot kan mens dus sê: om alle Christene verantwoordelik te hou vir die Kruistogte, is dieselfde as om alle Moslems aanspreeklik te hou vir Islamitiese terreur.

3) IS DIE GOD VAN DIE NUWE TESTAMENT DIESELFDE GOD AS IN DIE OU TESTAMENT AS DIT LYK OF SY KARAKTER VERANDER HET? EN WAT MOET ONS REAKSIE WEES OP n PERSOONLIKE ERVARING VAN GEWELD?

Die vraag is eintlik, hoe vereenselwig ons dit wat ons in die Nuwe Testament by Jesus leer, met wat ons in die Ou Testament sien?

Lennox gee in bg video ook n antwoord hierop. God se karakter het nie verander nie. Ons lees in die Ou Testament dat God n God van genade is (Deut 4:31); Hy is genadig en barmhartig (Jona4:2); Genadig en barmhartig, geduldig en groot in troue liefde (Ps 145:8). Barmhartig, genadig, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie (Eks 34:7).

Jesus sê dat as ons Hom gesien het, ons ook die Vader gesien het. God se karakter is ewigdurend dieselfde. Hy het nie verander tussen die Ou en die Nuwe Testament nie. Hy was nog altyd vol liefde en genade.

Dit is moeiliker om te praat oor ons eie reaksie op geweld teen ons self. Wat by mens opkom, is dat ons weet dat ons moet vergewe; dat Jesus sê dat ons die ander wang moet draai. Ons weet dat ons nie kwaad met kwaad moet vergeld nie, en dat God sê dat “wraak” aan Hom behoort, “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld.” Deut 32:35 sowel as Rom12:19. Hierin is mens versigtig om jouself uit te spreek oor n ander se situasie. Maar dit is wel die riglyn wat ons in die Bybel vind.

 

 

 

Similar Posts