|

Die Opstanding- wat ek nou eers besef.

Jesus Christus se opstanding uit die dood is n integrale deel van ons geloof. Soveel so, dat Paulus sê, as Christus nie opgewek is nie, is ons geloof sinneloos. (1Kor15:14). Ek het egter eers in die laaste jaar begin agterkom dat ons in die algemene kerk baie min hieroor leer. Ons vier verskriklik lekker aan Paasfees- Goeie Vrydag. Ek self dek n tafel met al die simbole, die wyn en brood, n kruis, doringkroon, granate vir Jerusalem, amandels vir Aaron se staf wat geblom het (dui op die hoë priester en dat Jesus ons ware Hoë Priester is), die Pasga lamsboud vir die  Vlekkelose Lam wat geslag is voor die grondlegging van die wêreld. Ons vier nagmaal by die kerk, sommer by die huis ook. Verlede jaar het ek geskryf oor “hoekom Jesus moes sterf”. Op hoeveel skilderye en afbeeldinge hang Jesus aan n kruis.

Maar- Paas Sondag gaan gewoonlik stil stil verby. Ons staan op, sê Geseënde Paasfees, gaan kerk toe- en eintlik dink ek nie veel verder nie. Ek weet die feit dat Hy opgestaan het en die dood oorwin het, beteken dat ons ook die ewige lewe kan hê. Ek weet dat “as ons glo dat Jesus die Here is en dat God Hom uit die dood opgewek het, ons gered sal word”, soos Paulus in Romeine sê. Maar… daar is eintlik soveel meer…

Paulus beskryf die Evangelie in Romeine 1 as die goeie nuus oor Jesus- wat volgens die vlees (Sy menslike natuur) n afstammeling van Dawid was, en dat sy Godheid (dat Hy God is) geopenbaar is deur Sy opstanding uit die dood (“wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here,”
‭‭Romeine‬ ‭1‬:‭4‬)

Indien die opstanding dan die spilpunt is waarom ons geloof draai, die feit waarop ons staan of val, waarom leer ons dan so min daaroor in die hedendaagse kerk? Wat sou jy antwoord op die vraag: waar in die Bybel lees ons van die opstanding? Totdat ek begin kyk het, sou ek gesê het ons lees daarvan in die Evangelies, moontlik sou ek gedink het aan die begin van Handelinge. Dit is egter waar ek sou moes ophou. Toe ek egter begin kyk, het ek dit regdeur Handelinge gevind, sowel as in bykans élkeen van Paulus sendbriewe: Romeine, Korintiërs, Galasiërs, Efesiërs, Flillipense, Kolossense, die briewe aan die Tessalonisense, aan Timoteüs. Petrus noem dit in sy eerste brief. Die Hebreër skrywer praat daaroor. Johannes in die Openbaring.

Meer nog- het jy geweet dat ons REEDS saam met Christus opgestaan het? Daardie onoorwinbare lewe wat Hom uit die dood opgewek het, het ook reeds aan ons nuwe lewe gegee, en ons sit reeds saam met Hom in hemelse plekke ( “Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel,” Efesiërs‬ ‭2‬:‭6‬)

Uit dit wat in die Bybel opgeskryf staan kan ons sien dat die vroeë kerk reeds van die begin af die opstanding as essensiële deel van die geloof geleer en oorgedra het. Dit was nie iets wat later bygevoeg is nie (soos deur sommige geargumenteer word).

HANDELINGE- die krag van ooggetuie verslae
In Handelinge lê die klem veral aan die begin op die OOGGETUIES van die opstanding. Petrus en later ook Paulus praat oor die opstanding in verband met die getuienis van díe wat dit eerstehands beleef het.

1:22 Die dissipels moes iemand in Judas se plek kies om n OOGGETUIE van Jesus se lewe en opstanding te wees “Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as ‘n getuie van sy opstanding optree.”Die verslae van Sy lewe, dood en opstanding, is ooggetuie verslae… nie net stories en legendes nie.
3:15 “maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies” uit Petrus se toespraak aan die Jode, en in dieselfde hoofstuk:
3:26 “God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.”
4:33 “Die apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom.”
5:30-31 (Petrus voor die Joodse Raad) “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. Ons is die getuies van hierdie gebeure..”
4:2 Na die genesing van die verlamde man word Petrus en Johannes inhegtenis geneem, omdat hulle Jesus se opstanding verkondig. Die Jode was “hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig.”
4:10 sê Petrus dat die man gesond gemaak is deur die Naam van Jesus, wat opgewek is uit die dood. “moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het.” Ek dink hy verbind die opstanding aan die krag en mag van Jesus as God om wonderwerke te doen.

Soos Paulus verder op sy sendingreise gegaan het, het hy hierdie boodskap uitgedra. Hy het gewoonlik, wanneer hy in n nuwe stad was, in die sinagoge met die Jode gaan redeneer. In Antiochië sê hy dat Jesus deur Sy opstanding dit wat deur die profete gesê is volbring het. Hy wys ook dat dit Jesus se opstanding is waarvan Dawid in Ps 16 praat.

13.30-37 “Maar God het Hom uit die dood opgewek. In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan: “ ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’ “En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê: “ ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes van Dawid gee.’”
17:2 In Thessalonisense preek Paulus vir die Jode sowel as Grieke in die sinagoge, en wys uit die Skrifte (die “Ou Testament”): “Deur die Skrifte uit te lê, het hy bewys dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Christus is Jesus, wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê.”
17:4 “Sommige van hulle is oortuig en het by Paulus en Silas aangesluit, so ook ‘n menigte Grieke wat God vereer, en geen geringe aantal vooraanstaande vroue nie.” Dit was die prediking aangaande die opstanding wat hulle oortuig het. 

Wanneer Paulus in Athene is in 17:18 “Sommige van die Epikuriese en Stoïsynse filosowe het ook met hom gedebatteer, en party van hulle het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” En omdat hy Jesus en die opstanding verkondig het, het ander van hulle weer opgemerk: “Dit lyk of hy ‘n verkondiger van vreemde gode is.””17:31 “Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.”

Paulus het altyd die OPSTANDING verkondig, en dít was wat mense tot bekering en geloof gebring het. In 1Kor 15:3-4 gee Paulus dit wat as die vroegste belydenus van geloof gesien word: “Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte;” Dit is die kern van ons geloof.

Paulus handhaaf sy argumente aangaande die opstanding  reg deur die Handelinge; tot aan die einde waar hy voor Festus en Agrippa verskyn. Sien Handelinge 24,25 en 26.

Wat die opstanding verder vir ons vandag beteken

1)Dat ons die krag van Sy opstanding kan ken; dit is die krag wat ons in staat stel om m goddelike lewe te lei

Ef 1:19-20 “wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele”  Fil 3:10 “Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.”

2)Hoop in huidige swaarkry

2Kor 1:8-9 “Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as’t ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek.”
In die voorafgaande vier verse word die woord “bemoedig/bemoediging” 10 maal genoem, te midde van Paulus se vertelling van hul swaarkry en verdrukkinge. Hy herinner ons om te vertrou op God, wat die dooies opwek, in wie se krag ons lewe.

3)Toekomende hoop- Jesus se opstanding is die bewys van ons eie toekomstige opstanding, soos wat geloof die bewys is van dinge wat nie gesien word nie. Hebr 11:1

Rom 8:11 “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
‭‭1Kor 6:14 “Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek.” Jesus se opstanding is die waarborg van ons eie toekomende opstanding.
1Kor 15:19-23 “Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur ‘n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens ‘n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort.”
2Kor 4:14 “Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel.”
1Thess 1:10 “en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.”
1Thess 4:14 “Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.”

4) Aanmoediging om te volhard tov die Evangelie

2Tim 2:8-10 “Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos ‘n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry.”

Paulus se evangelie, gebasseer op Christus se opstanding,  in n neute dop- Brief aan die Romeine. 

Hy is die Seun van God 1:24 (die evangelie aangaande Jesus) “wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here,”

Ons ontvang regverdigmaking deur geloof 4:23-25 “Dat dit (geloof) vir hom (Abraham) as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.”

Ons het saam met Hom gesterf tot ons sonde,en Sy opstanding gee ons die krag om n nuwe lewe te leef 6:4-6 “Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.”
‭‭
Ons is dood tot die sonde en dit het nie meer heerskappy oor ons nie 6:9 ‭‭“Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 11 Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.”

‭‭Ons kan onsself aan God gee deur regverdige lewens te lei 6:13 “Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God.”
‭‭
Ons behoort aan die Een wat uit die dood opgestaan het 7:4 “Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra.”

As ons in die Gees lewe sal ook ons sterflike liggame lewend gemaak word 8:11 “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Daar is geen veroordeling vir ons nie 8:34 “Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”
‭‭
10:9 “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”

Hy is God oor almal 14:9 “Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.”

Wat sê Petrus?

1:20-21 “Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.”
‭‭3:21 “Die doop, wat ‘n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as ‘n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as ‘n smeekgebed tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus –”

In die Brief aan die Hebreërs

7:16 Jesus ons Hoë Priester “– een wat dit nie volgens die voorskrif van ‘n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe.”
‭‭13:20 “En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond,”“julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! Amen!”

Meer nog, ons is reeds ook saam met Hom opgewek. 

Kol 2:12,13 “Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het.”
‭‭Kol 3:1 “As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit.”
Ef 2:4-6 ” Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van Sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak– uit genade is julle verlos!  Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel”

Sonder die opstanding is ons geloof nutteloos. Vir ons wat glo, is dit die waarborg van dit waarop ons hoop: die erfenis wat vir ons in die Here se teenwoordigheid bewaar word. Mag dit elke dag vir jou n werklikheid wees. 

‭‭

‭‭

 

‭‭

‭‭

 

‭‭
‭‭

 

 

 

 

‭‭
‭‭

 

 

 

 

 

 

 

 

Similar Posts