Lees die Bybel Romeine 1:1-3:20

Die brief aan die Romeine is Paulus se mees duidelike verduideliking van presies  hoe ons redding in Christus “werk”.

Daar is n duidelike struktuur aan die brief, wat hy moontlik vanuit Korinte of Filippi geskryf het, rondom 57 n.C. Die tema van die brief is God se openbaring van geregtigheid (“righteousness”).

In hierdie eerste deel verduidelik Paulus:

-belangrike gedagtes rakende die evangelie van Jesus Christus.
-die verlorenheid van alle mense in hul natuurlike, sondige staat, asook hoe ons tot daar gekom het. Hy verduidelik dat almal gesondig  het en dat dit almal ontbreek aan die heerlikheid van God.
-dat die Wet op sy eie nie die krag het om ons te red nie.

Belangrike gedagtes rakende die evangelie:

1:1-17 Paulus is afgesonder (geroep) om die Evangelie te verkondig

-die Evangelie is aangaande die Seun van God- as mens afstammeling van Dawid, en Sy opstanding uit die dood het bewys dat Hy die Seun van God is.

-Paulus is geroep om die Evangelie te verkondig, en sodoende dissipels te maak onder alle nasies.

-Hy skaam hom nie, want die Evangelie is die krag tot redding vir elkeen wat glo.

-In die Evangelie word die geregtigheid (righteousness) wat God verlang geopenbaar, en ook dat dit deur en tot geloof is.

Die verlorenheid van alle mense.

1:18-32 vertel van die afwaartse spiraal wat die mens gevolg het in sy pad weg van God.

-die mens het deur sy ongeregtigheid die waarheid van God onderdruk.

-God het deur dit wat Hy gemaak het genoeg gegee dat Sy mag en goddelikheid deur almal gesien kan word.

-die mens het egter besluit om Hom nie as God te eer nie.

-God het die mens oorgegee aan die sonde totdat hulle met elke soort ongeregtigheid gevul is.

Persoonlike nota: Ons dink maklik dat dit die “ander mense “is waarvan Paulus hier praat. Ons moet egter besef dat dit wat Paulus hier beskryf, die mens in sy sondige staat is, maw die mens ná die sondeval, toe ons gees gesterf het, en ons vanuit God se koninkryk na die koninkryk van die bose oorbeweeg het. In Kolossense beskryf Paulus hoe Christus ons deur Sy dood vanuit die koninkryk van die bose weer oorgebring het na die Koninkryk van die Seun van Sy (die Vader) se liefde. Paulus verduidelik hier in die Brief aan die Romeine hoe ons deel aan daardie verlossing kan hê, tot eer van God. 

God se regverdige oordeel

2:1-16 Paulus herinner die leser dat niemand moet dink dat hulle die oordeel van God sal vryspring nie ( onthou, hy praat hier onder andere met Jode wat voordat hulle tot geloof in Christus gekom het, staatgemaak het op die Wet. Hy praat egter ook met ons, wat ná Christus hierdie brief lees).

-God se regverdige oordeel sal openbaar word, en God sal elkeen aan die hand van sy dade oordeel. (onthou, Paulus is op die punt om die geregtigheid wat God nou in Christus openbaar het, te verduidelik).

-die Jode maak staat op die Wet, al doen hulle nie noodwendig wat die Wet sê nie. Daarom sê hy in v12, dat dit nie net deur die AANHOOR van die Wet is dat redding kom nie, maar deur die DOEN van die Wet. Dit help nie jy HOOR dit net nie. Selfs aan heidene het God die Wet in hul harte gegee- iemand wat nie die Wet het nie, weet nogsteeds hy is skuldig as hy bv sy broer doodgemaak het…. daarom doen hy dit in die geheim en nie in die openbaar nie v15.  Hul gewete sal hulle aankla op die dag wanneer Christus mense sal oordeel.

Aan die Jode

2:17-2:24 Dit help nie om net te weet wat die Wet sê nie, jy moet dit ook doen. Dit herhaal die voorafgaande stelling dat dit nie help om net te HOOR nie.

2:25-2:29 Die besnydenis (die teken van God se Verbond met Israel) is vir die Jood net van waarde indien hydie ganse Wet onderhou; en ware besnydenis is die besnydenis van die hart, soos verduidelik in Paulus se brief aan die Kolossense 2.

3:1-3:9 Paulus vra of daar nog waarde daarin is om n Jood te wees… Onthou, hy is self n Jood. Sy antwoord is in vers2. Die Jode was die oorspronklike ontvangers van die beloftes van God.

-Die Joodse volk se ontrou en ongeloof maak nie dat God nie getrou is nie (daar word op hierdie gedagte voortgebou in hfst 9-11)

-Jode en Grieke (kan “Grieke” vervang met nie Jode) word almal onder die sonde aangekla; die Jode het nie n voordeel nie.

Almal is sondig

3:10-3:20  Niemand is regverdig nie.

3:18 Daar is geen vrees van die Here nie.

3:19 Niemand word deur die Wet geregverdig nie; die Wet se funksie is om die mens bewus te maak van sonde (maar dit het nie die mag om ons daarvan te regverdig nie) Sien later Rom8:3 die Wet was nie in staat om dit te doen nie, maar God het dit deur Sy Seun gedoen.

(Die goeie nuus kom vanaf 3:21)

Paulus se evangelie, gebasseer op Christus se opstanding,  in n neute dop- Brief aan die Romeine. 

Hy is die Seun van God 1:24 (die evangelie aangaande Jesus) “wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here,”

Ons ontvang regverdigmaking deur geloof 4:23-25 “Dat dit (geloof) vir hom (Abraham) as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.”

Ons het saam met Hom gesterf tot ons sonde,en Sy opstanding gee ons die krag om n nuwe lewe te leef 6:4-6 “Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.”
‭‭
Ons is dood tot die sonde en dit het nie meer heerskappy oor ons nie 6:9 ‭‭“Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 11 Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.”

‭‭Ons kan onsself aan God gee deur regverdige lewens te lei 6:13 “Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God.”
‭‭
Ons behoort aan die Een wat uit die dood opgestaan het 7:4 “Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra.”

As ons in die Gees lewe sal ook ons sterflike liggame lewend gemaak word 8:11 “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Daar is geen veroordeling vir ons nie 8:34 “Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”
‭‭
10:9 “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”

Hy is God oor almal 14:9 “Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.”

 

 

 

Similar Posts

2 Comments

  1. Dankie Liesel!
    1. Jy het die indeling van die eerste drie hoofstukke gegee om te lees en
    2. die basiese strekking van veral hoofstuk 1-2 gegee.
    3. Jou inleiding gebruik veral die “Roman’s Road” perspektief. Dis baie handig vir die persoonlike verstaan van die Evangelie. Dit pas ook mooi in die bekende strukture van Romeine.
    4. Jy het ook die brief se ontstaan in berekening gebring.

    Kyk ook hoe pragtig betrek Paulus ook reeds die Ou Testament en die OT gelowiges reeds in die eerste 4 verse en hoe bring hy die opstanding reeds daar in spel. Hy wat Paulus is se eie oë het oopgegaan vir sy eie Bybel toe hy Koning Jesus oppad na Damakus ontmoet!! Dit het sy hele verstaan van “Goeie Nuus” verander (vgl. Rom 1:1-4; met Hand 9; 22; 26). Ons kan dus ook ons eie ervaring – soos wat jy dit so mooi hier bo wys – plaas in God se trou en liefde.

    NT Wright, “The easiest thing to determine about Romans is its basic shape. It’s four sections emerge clearly”:
    1. Die Trou van God: Rom 1-4
    2. God se mense in Christus: Rom 5-8
    3. God se Beloftes en sy Getrouheid: Rom 9-11
    4. God se oproep om Hom te Aanbid, Heilig te Leef in Eenheid Rom 12-16

    Groete!!
    En dankie vir jou harde werk en ywer vir die HERE!

  2. Dankie Pieter.
    Ek gaan so klein bietjie skaaf en dan vir Anouk en Daan gee om na te kyk. En dan hul terugvoer kry, of dit hul help.
    Baie dankie

Comments are closed.