Lees die Bybel: ROMEINE- Algemene Oorsig
DIE BRIEF AAN DIE ROMEINE

Paulus skryf aan gelowiges in Rome, dus Jode sowel as nie Jode. Dit is belangrik om te verstaan dat daar teen die tyd van Handelinge 1 reeds n baie diverse groep mense in die Kerk ingesluit is. In Hand 1: 9-11 lees ons dat daar ten tye van die uitstorting van die Heilige Gees mense uit Partië, Medië, Elan (huidige Iran), Mesopotamië, Judea, Kappadosië, Pontys, Asië, Frigië, Pamfilië en Egipte in Jerusalem teenwoordig was. Lukas noem spesifiek dat hierdie groot groep ook reisende Jode vanuit Rome ingesluit het. Rome was die middelpunt van die bekende wêreld, en dit kan aanvaar word dat van hierdie mense na Rome sou teruggekeer het. Dit is moontlik hoe die kerk in Rome sy ontstaan sou kon gehad het.
Verder moet mens ook besef dat die wêreld waarin die vroeë kerk geleef het anders gelyk het as dit wat ons ken. Ons aanvaar die Christelike waardes waarmee ons lewe, as vanselfsprekend. Die Griekse en Romeinse kultuur was egter goddeloos en losbandig; vrouens en kinders, sowel as slawe, het geen regte gehad nie. Mensehandel was aan die orde van die dag. Dit is in hierdie kultuur waar die vroeë gelowiges gelewe het. Dit was hierdie wêreld wat verander is deur die Evangelie, en omvorm is tot dit wat ons nou as “normaal” beskou, en dit it is in hierdie konteks waar Paulus sê, dat die Evangelie wat hy verkondig ons roep om heilig te lewe.
Hy wys dat elke mens skuldig staan voor God, Jode sowel as nie Jode; dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God. God se regverdige oordeel sal oor elke mens gevel word.
Die hooftema (en goeie nuus) van die brief is die openbaring van die geregtigheid (in Engels: the righteousness) van God, wat deur geloof in Jesus Christus bekom word.
Hy verduidelik dat geloof die basis van hierdie nuwe geregtigheid (“righteousness”) is, en hoe Abraham die vader van alle gelowiges is- nie net die Jode wat fisies van hom afstam nie. (Dit is bietjie moeilik om te verstaan as mens nie die agtergrond van Abraham verstaan nie, ons kan later, wanneer ons daarby kom, hierna kyk.)
Paulus wys ons dat ons nou vrede met God het en dat ons deur Hom van die oordeel en toorn van God gered sal word.
Hy verduidelik dat ons dood is vir die sonde en nou op n nuwe manier kan lewe; sonde het nie meer heerskappy oor ons nie.
Ons lewe egter nog steeds die huidige lewe in n gevalle skepping, maar ons dank God omdat Hy ons red van hierdie liggaam van die dood (ons sterflike liggaam en sondige natuur).
Daar is nou geen veroordeling meer vir ons wanneer ons in die Gees lewe nie; daar is geen aanklag teen ons of veroordeling oor ons nie, en niks kan ons van Sy liefde skei nie.
In hfst 2-3 sowel as in hfst9-11 praat Paulus spesifiek oor/met die Jode, wat roem op die Wet, en dat hulle gered word deur die Wet te onderhou. Die besnydenis was vir hulle van kardinale belang omdat dit die fisiese teken was van God se verbond met hulle. Paulus wys dat die ware besnydenis die besnydenis van die hart is, en dat die ware Jood die een wat innerlik n Jood is. Hy wys dat , en hy verduidelik hoe, ons as die kerk deel van hulle (die Jode) is; hy gebruik die beeld van n loot wat op n boom geënt word. Daar het n verharding oor die Jode gekom, sodat die heidene ook gered kan word. Hulle is egter steeds geliefd deur God ter wille van hul voorvaders.
Paulus beëindig die brief deur algemene riglyne aan die lesers te gee.
Paulus se evangelie, gebasseer op Christus se opstanding, in n neute dop- Brief aan die Romeine.
Hy is die Seun van God 1:24 (die evangelie aangaande Jesus) “wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here,”
Ons ontvang regverdigmaking deur geloof 4:23-25 “Dat dit (geloof) vir hom (Abraham) as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.”
Ons het saam met Hom gesterf tot ons sonde,en Sy opstanding gee ons die krag om n nuwe lewe te leef 6:4-6 “Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.”
Ons is dood tot die sonde en dit het nie meer heerskappy oor ons nie 6:9 “Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 11 Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.”
Ons kan onsself aan God gee deur regverdige lewens te lei 6:13 “Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God.”
Ons behoort aan die Een wat uit die dood opgestaan het 7:4 “Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra.”
As ons in die Gees lewe sal ook ons sterflike liggame lewend gemaak word 8:11 “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
Daar is geen veroordeling vir ons nie 8:34 “Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”
10:9 “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”
Hy is God oor almal 14:9 “Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.”